Die landboubedryf ondersteun die verbruiker se koopkrag.

Die landboubedryf ondersteun die verbruiker se koopkrag.

Die landboubedryf ondersteun die verbruiker se koopkrag.

As jy naby aan 50 is, is die kans goed dat jy kinders oorsee het en reeds ‘n string familielede en vriende ken wat daar woon en werk.  Dan is dit nie net die waarde van die Rand wat vir jou as produsent saak maak nie maar die betekenis van koopkrag kry ook vir jou as ‘n verbruiker ‘n nuwe dimensie.
John Thornton en Leo Delaney het in die vroeë tagtiger jare uit Brittanje na Suid-Afrika ge-emigreer en in 1997 saam ‘n Johannesburgse onderneming in die groothandel van vleis begin bedryf.  John verkoop droëwors tans teen R220/kg.
Kyle Hodson, ‘n Suid-Afrikaner het in 2016 na Nederland verhuis en opgelet dat die smaak en kwaliteit van biltong nie op standaard is nie.  Hy het vir homself begin biltong maak en vandag het dit gegroei na ‘n onderneming wat biltong regoor die Eurosone verkoop.  Kyle verkoop droëwors in die EU teen ongeveer R900/kg (Teen die week se wisselkoers van R17.15 teenoor die Euro).
Terwyl die Rand met R17 teenoor die Euro verhandel is die mark wisselkoers vir biltong 4 tot 1 en nie 17 tot 1 nie.  Daar is dus heelwat meer vertroue in die markwaarde van biltong as die geldwaarde van die Rand!  As dit moontlik was om vir jou kinders of familie ‘n kg pak droëwors van R220 saam met ‘n vriend wat in Nederland gaan vakansie hou te stuur voeg jy meer waarde tot jou kinders se welvaart toe as wat jy 12.94€ (Gelykstaande aan R220) saam met die vriend stuur sodat hulle self probeer om ‘n kg droëwors in Amsterdam by Kyle te gaan koop. Kyle verkoop droëwors teen Euro 7.82/150 g en sal vir hulle in sy slaghuis in Amstelveen net 250 gram droëwors uitweeg. Jou koopkrag in Nederland ten opsigte van droëwors is ‘n kwart van wat dit in Suid-Afrika is.  Gebaseer op die waarde van droëwors is die Rand teenoor die Euro met 75% onderwaardeer. Ekonome vergelyk koopkrag en beskryf dit as Purchasing Power Parity.   
Purchasing Power Parity impliseer dat die wisselkoers (R:Euro) deur die waarde van goedere bepaal word wat daardie geldeenheid kan koop. Die verskil in die plaaslike prys soos in die geval van droë wors in die voorbeeld hierbo of ‘n Big Mac burger suggereer wat die R/Euro wisselkoers behoort te wees.  Deur ‘n soortgelyke produk soos droëwors of ‘n Big Mac te gebruik kan beraam word hoeveel die Rand se waarde teenoor ander geldeenhede onderwaardeer is.
Volgens die Big Mac verslag in Julie kos ‘n Big Mac burger in Suid-Afrika R33.50 teenoor die prys van ‘n Big Mac burger in die VSA van VSA$5.65.  Volgens Burgereconomics is die geïmpliseerde wisselkoers 5.93.  Die verskil tussen 5.93 en die werklike wisselkoers van 14.66 (R:VSA-$ wisselkoers) impliseer dat die Rand teenoor die VSA-$ met 60% (Gebaseer op rou undeks) onderwaardeer is.  Van die 57 lande (VSA en Eurogebied ingesluit) is die Suid-Afrikaanse Rand naas Rusland en Libanon die geldeenheid wat ter wêreld die meeste onderwaardeer is.  Indien die Big Mac indeks aangepas word om vir die bruto binnelandse produk per persoon voorsiening te maak lyk die indeks vir Suid-Afrika heelwat beter (Tabel 1).  Hiervolgens is di eRand teenoor die VSA-$ 29.6% onderwaardeer.  

Tabel 1:  Die Big Mac indeks1 in lande wat met Suid-Afrika handel in graan en oliesade

 Land Geldeenheid 

Onder/

Oorwaardeer (%)
 Land Geldeenheid Onder/ Oorwaardeer
 VSA VSA-$ 0 Suid-Korea Won -7.8
 Euro gebied Euro +9.2 Taiwan NT$ -38.9
 Australië Aus-$ -8.1 Ukraïne Hryvnia -25.1
 Argentinië Peso +16.3 Suid-Afrika Rand -29.6
 China Yuan -0.4 Rusland Roebel -34.3














Die Big Mac indeks 1:  Aangepas om die Bruto Binnelandse Produk (Bydrae tot die ekonomie) per persoon in ag te neem.
Purchasing Power Parity suggereer dat die Rand oor die lang termyn moet versterk.  Suid-Afrika se ekonomiese groei en die bydrae wat die gemiddelde individu tot Suid-Afrika se ekonomiese groei maak is egter te swak.
Jou koopkrag teenoor ander lande waar van jou familie en vriende gevestig is sal slegs versterk as elkeen in hierdie land sy deel doen en harder begin werk vir die geadministreerde loon wat arbeid daarvoor vergoed word.  Jou koopkrag sal versterk as voldoende volhoubare elektrisiteit aan ons nywerhede sonder onderbrekings, ontploffings en met die nodige kundigheid voorsien kan word. Die nywerhede se produksie word deur die beskikbaarheid van energie soos elektrisiteit beperk. ‘n Effektiewe polisiemag verlaag nie net die koste aan misdaad nie maar voorkom dat misdaad en die stroping van infrastruktuur en pakhuise plaasvind en negatiewe persepsies oor Suid-Afrika onder beleggers oorsee posvat. Die gebrek aan beheer oor misdaad skep ‘n negatiwiteit onder onderskrywers van versekering oorsee.  Plaaslike versekeringspremies verhoog, kredietagentskappe verlaag hul kredietgraderings van Suid-Afrika en finansieringsrisiko verhoog met rentekoers wat kan begin styg om met risiko tred te hou.
Landbouproduksie word tans deur die uitstekende reënvalpatrone bevoordeel en produksie verhoog.  Die beskikbaarheid en vinnige aanvaarding van tegnologie deur produsente verhoog landbouproduktiwiteit deurdat die eenheid insetkoste daardeur verlaag.  Die verhoogde produksie graan en oliesade vloei deur die silos en word uitgevoer.  Meer mense moet in diens geneem word om die verhoogde produksie en uitvoere te behartig.  Voldoende infrastruktuur soos sylyne, taklyne, hoofspoorlyne, paaie en hawens kan die  transaksiekoste vir handel verlaag. Dit moet verbeter.
Die waarde van ‘n land se geldeenheid reflekteer die persepsie wat die res van die wêreld van daardie land het.  Die Rand is swak omdat die vraag daarna swak is.  Sodra belangstelling in Suid-Afrika in terme van handel en belegging toeneem versterk die Rand.  Ons sien dit nou weer met die belangstelling van die wêreld in Suid-Afrika se graan, sitrus en vrugte uitvoere. As jy weer vir jou kinders of familie ‘n verjaarsdag- of kersgeskenk oorsee wil stuur wees dankbaar teenoor die landbou en die wonder van die klimaat wat jou koopkrag ondersteun en hulle welvaart in die vreemde deur jou geskenkie in die kleine ‘n hupstoot gee.